Son: Opkoms van ‘n nuwe dag Ossewa: Kenteken van die Afrikaner Anker: Alles wat ons doen is geanker in die Bybel Bybel: Ons leef op Bybelse beginsels
Bul: Veekunde afdeling
Ploeg: Akkerbou afdeling Volhard: Leuse
Groen: Landelike omgewing
Visie
Die Hoërskool Wagpos streef daarna om 'n Afrikaanse Hoërskool daar te stel wat:
die Akademiese vordering van leerders altyd voorop stel;
'n verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite aanbied wat 'n leerder se hoërskool opvoeding sal afrond;
ons unieke, karakter in stand sal hou en beskerm;
poog om na die behoeftes van ons leerders en al ons ander belangegroepe om te sien;
gebalanseerde, gelukkige, suksesvolle en volwasse jongmense te help vorm wat 'n positiewe bydrae tot die breë gemeenskap sal kan maak.
Missie
Ons streef daarna om kwaliteit onderrig te gee deur:
vir elke leerder die beste moontlike geleenthede te skep om binne sy/haar vermoë op
- Akademiese; en
- Sport en kulturele gebied te presteer.
opvoedende onderrig in Afrikaans aan elke leerder te verskaf, deur die volgende vyf studierigtings:
- Landbou en Natuurbewaringstudies
- Besigheid- en Bestuurstudies
- Vervaardiging, Ingenieurswese en Tegnologie
- Fisiese, Wiskundige, Rekenaar- en Lewensstudies
- Dienste
As Beheerliggaam, ouers, personeel en leerders aanvaar ons die volgende:
Die Hoërskool Wagpos is gegrond op 'n Christelike lewensbeskouing. Die oppergesag en almag van
God Drie-enig word erken. Geloofsvryheid word verseker.
Die gesin vorm dié primêre opvoedingsbasis van elke leerder. Daar word van ons leerders verwag om volwasse persone se gesag te erken en te aanvaar. Volwassenes sal daarna streef om elke leerder met respek, geduld en begrip te lei en te ondersteun.
Die goeie naam en belange van die skool is van groot belang. Daar word dus van leerders en personeel verwag om te alle tye, deur ons gedrag, optrede, taal en denke die goeie naam van die skool in ag te neem en te bevorder.
Die beginsel van vreedsame naasbestaan word erken. Leerders en opvoeders is in 'n vennootskap en daarom moet daar deurentyd gebou word aan wedersydse positiewe gesindhede.
Hoë standaarde is nie onderhandelbaar nie en moet behou en steeds verder verhoog word om sodoende 1 Junie 2006 te voldoen aan die behoeftes van ons leerders. 'n Positiewe en gesonde leerkultuur is dus van deurslaggewende belang.
Die beginsel van gebalanseerdheid word onderskryf en daarom streef elkeen daarna om dit uit te leef deur aan die grootste moontlike verskeidenheid aktiwiteite deel te neem en 'n bydrae te lewer.
Geskiedenis
Die Beheerliggaam, personeel en leerders verwelkom u en u kind by voorbaat by DIE HOËRSKOOL WAGPOS. Sedert die skool in 1928 as 'n Landbouvakskool gestig is, het die skool gegroei tot 'n volwaardige akademiese en beroepsgerigte skool. Vanaf 2006 sal vakke in die volgende studierigtings aangebied word:
Landbou en Natuurbewaringstudies
Besigheid- en Bestuurstudies
Vervaardiging, Ingenieurswese en Tegnologie
Fisiese, Wiskundige, Rekenaar- en Lewensstudies
Dienste
Die skool het 'n ryk geskiedenis en ons oudleerders behaal voortdurend sukses in 'n groot verskeidenheid sektore van die samelewing. WAGPOS is ± 6 km buite Brits op die Rashooppad geleë Die terrein bestaan uit 'n plaas van ongeveer 365 ha waarvan die grootste gedeelte weiveld is. Aangesien die skool se doel is om aan elke leerder die geleentheid te bied om sy of haar potensiaal ten volle te ontwikkel, waardeer ons ons ouers se opregte belangstelling en deurlopende betrokkenheid en motivering. Die skool is daartoe verbind om 'n leerder op sy pad na volwassenheid by te staan, sodat hy/sy nie net 'n volwaardige landsburger sal wees nie, maar 'n positiewe, verantwoordelike persoon wat sy plek in die arbeidsmark en in die samelewing sal kan volstaan. Ons vertrou dat u en u kind 'n baie gelukkige en suksesvolle verbintenis met hierdie skool gaan hê. Wees verseker dat die hoof, personeel en Beheerliggaam se deur altyd oop staan - u is welkom om enige probleme of behoeftes met ons te bespreek.
Erekode
BEWUS van my verantwoordelikheid voor God en die mensheid, verklaar ek in alles nederigheid:
DAT ek bo alles die ereplek aan God en Sy Woord in my skool gee, en dat ek die diepgewortelde Christelik-Nasionale lewensbeginsels van my volk in my daaglikse handel en wandel sal uitlewe.
DAT ek my duurgekoopte erfenis om my hart sal vou, en solank as wat ek lewe met jaloersheid daaroor sal waghou.
DAT ek daarvan oortuig is dat die krag van die Afrikaners in eenheid gesetel is, en dat ek langs hierdie weg kan help om die vryheid van my land te beveilig.
DAT ek n opdrag van God het om die geluk, die geestelike- en stoflike welvaart van my maats te help bevorder.
DAT ek gehoorsaamheid en respek teenoor my ouers en onderwysers hoog ag, en ek belowe om my altyd hoflik teenoor dames, my meerderes en minderes te gedra.
DAT ek daarna sal strewe om hulpvaardig te wees en my medemens te dien.
DAT ek sal woeker met die talente deur God aan my toevertrou.
DAT ek elke taak met hart en siel sal aanpak.
DAT my woord my eer is, en dat ek sal nastreef - getrouheid, eerlikheid, opregtheid en vriendelikheid.
DAT ek my daaraan verbind om die verpligtinge wat uit my voorregte spruit, na te kom.
DAT ek erken dat ek; sondaarmens is, maar dat ek deur God se genade sal stry teen alles wat in en om my verkeerd is, en dat ek n laer sal slaan om geregtigheid wat moet seevier en;
DAT ek liefde, eensgesindheid en welwillendheid sal bevorder ooreenkomstig die tradisies van hierdie skool wat ek so lief het.
Skoollied
Ons is trots om jeug van WAGPOS te
wees
Klein in getal, maar groot van gees
Oor die vlaktes van Suid-Afrika
Al is die stryd benard
ons sal moedhou en volhard
WAGPOS ONS WIL VOLHARD
Akademies, Landbou, Tegnies gerig
Eerlike werk is ons plig
Teen die hange van Magaliesberg
Bring ons offers wat ons skool van ons
verg
Volhard-dan bly steeds waak
Dis n skoon verhewe taak
WAGPOS ONS SAL VOLHARD (2x)