
| 'n Blink toekoms wink vir Wagpos-leerders. | |
Plek vir sissietjies is daar nie in hierdie land se toekoms nie. Elkeen wat 'n sukses wil maak moet 'n stewige grondslag van opvoeding en opleiding hê. En om hierdie grondslag te lê is die taak en roeping van die bekende Die Hoërskool Wagpos net buite Brits. By Wagpos is volledige ontwikkeling van jongmense die wagwoord. Ouers, onderwysers, leerders en boere van die omgewing werk saam om nie net uitstekende onderrig te bied nie, maar om ook volledig toegeruste mense te lewer wat hulle plek op alle gebiede in die samelewing vierkantig kan vol staan. Alhoewel die skool sy ontstaan 76 jaar gelede as landbouskool gehad het en steeds een van die mees prominente landbouskole in die land is, is dit ook 'n volwaardige akademiese en tegniese hoërskool. Maak nie saak watter rigting 'n leerder kies nie, nadat hy aan Wagpos gematrikuleer het is sy pad oop na enige loopbaan en enige tersiêre opleidingsinrigting. Wat Landbou betref, bied die skool Akkerbou, Veekunde in die hoër graad sodat dit vir universiteitstoelating kwalifiseer en Plaaswerktuigkunde (Verwys na VAKKEUSE). Om die akademiese kennis met praktiese bedrewenheid te rugsteun, het die skool 'n plaas van 386 hektaar aan die voet van Langberg. Op hierdie plaas word kliphard gewerk want daar word nie net geboer om leerders aan die praktiese sy van boerdery bloot te stel nie, maar ook om die skool geldelik te onderhou. Die skool het 64 hektaar besproeiingsgrond uit Hartbeespoortdam. Daarop word soja, koring en lusern verbou. Die soja en koring word bemark, maar die luserm gebruik die skool self. Wagpos se jongste wenprojek is 'n joghurtfabriek waar die skool al die melk van sy Frieskudde wat die koshuise nie koop nie gebruik om eetjoghurt, drinkjoghurt en joghurtysies te maak. In hierdie projek werk die Melkprodusente-organisasie saam met die skool. Leerders kan die joghurtkursus voltooi en as volwaardige joghurtmakers met sertifikaat en al kwalifiseer. Die skool het ook 'n Bonsmarastoetery, 'n lonende varkboerdery en sy eie perde. Die skool bied elke jaar 'n verskeidenheid kursusse waarvoor suksesvolle kandidate sertifikate ontvang wat hulle vir die res van hulle lewe goed te staan kan kom. Die kursusse sluit in kunsmatige inseminasie, dragtigheidsondersoeke, veeseleksie, melkstalhigiëne, trekkeroperateursopleiding en sweiswerk. Die sweiskursus word deur Afrox aangebied en leerders wat dit voltooi het kom spog graag na vakansies by die skool met die geld wat hulle die vakansie met sweiswerk verdien het! |
|
| Copyright © 2012 Hoërskool Wagpos. All rights reserved. | |